15 May 2023

Fauna / Kontantkoeie: beweerde SAPD-betrokkenheid by grootskaalse veediefstal

Die polisie se knaende gebrek aan optrede en beweerde betrokkenheid lê boerderygemeenskappe lam en bring landelike veiligheid in Suid-Afrika se Vrystaatprovinsie in gedrang.

Veediefstal oor Suid-Afrika- en Lesotho-grense is ’n eeue-oue praktyk wat deeglik geboekstaaf is. Die vertelling in daardie verband, konsentreer dikwels op die oorgrensende aard van die misdaad. Ander voorbokke van veediefstal in die streek moet egter ewe veel aandag geniet. Dit sluit die beweerde betrokkenheid van lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in, wat daartoe lei dat die doeltreffende ondersoek van voorvalle en bydrae tot landelike veiligheid, in die slag bly.

Veeverliese beloop jaarliks na raming meer as een miljard rand. Die impak strek egter veel verder as die finansiële verlies. Voorvalle van veediefstal in die oostelike streek van Suid-Afrika se Vrystaatprovinsie, en sy grensstreke met Lesotho, spreek van hierdie potensieel verreikende impakte.

Plaasbestuurder, Brendin Horner, is in Oktober 2020 naby die dorp, Paul Roux, vermoor, glo tydens ’n konfrontasie met veediewe. Werknemers van die plaas waar Horner gewerk het, is ook voorheen deur veediewe aangerand. In Januarie 2023 is Evan Sorour van Ficksburg, nog ’n Oos-Vrystaatse dorp, vermoor tydens ’n onderonsie met ’n veehandelaar wat vermoedelik by veediefstal betrokke was.

Hierdie voorvalle het gevolg nadat streekboere die polisie aanhoudend versoek het om op te tree teen veediefstal en hulle gewaarsku het dat dit lewensverlies tot gevolg kan hê. In 2019 het Boere ’n verslag by die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) ingedien wat bewyse van ’n georganiseerde veediefstalnetwerk bevat wat aktief is in die Oos-Vrystaat. Die verslag bevat die name van verdagtes, waarvan party verbind word met verskeie hangende veediefstalsake, en bewyse van polisiebetrokkenheid.

Valke se ondersoeke na beweerde polisiebetrokkenheid kan hul toewyding aan die ontwrigting van veediefstal en korrupsie toon

Korrupsie is die sleutel tot georganiseerde misdaad en behels tipies die vergemakliking van kriminele aktiwiteite sodat netwerke doodluiters ongestraf kan funksioneer. Terwyl party voorvalle van veediefstal deur opportunistiese individue of groepe uitgevoer word, vereis grootskaalse veediefstal ’n vlak van organisasie – dikwels met die hulp van korrupte rolspelers.

Bewerings teen die polisie sluit in dat hulle die verslae van veediefstal knaend ignoreer of dat hulle traag is om op voorvalle te reageer. Wat selfs meer kommerwekkend is, is berigte dat polisielede dikwels in gebiede en tydens voorvalle gesien word waar hul teenwoordigheid nie verduidelik kan word nie. Polisielede het getuies glo ook gedreig om hulle te verhoed om in vervolgings te getuig.

’n Boer het na vore gekom en gesê dat veediefstaldossiere vir verskeie SAPD-ondersoekers gegee is, wat dikwels geweier het om die saak te ondersoek of die saak vinnig toegemaak het. Beamptes wat aan sake gewerk het, is ook dikwels oorgeplaas. ’n Ander boer het aan ENACT gesê dat die polisie se gebrek aan optrede die streek se boere vervreem het en dat baie van hulle geen nut sien om veediefstal aan te meld nie. Gevolglik weerspieël veediefstalstatistieke nie die ware aantal voorvalle akkuraat nie. Die statistieke hou ook nie rekening met die aantal vee wat tydens voorvalle gesteel word nie.

In die nadraai van Horner se moord het Bheki Cele, Suid-Afrika se minister van polisie, ’n taakspan van boere en polisie in die lewe geroep om praktiese oplossings vir veediefstal in die Oos-Vrystaat te ondersoek en te oorweeg. ’n Boer het egter aan ENACT gesê dat polisiebywoning ná elke vergadering gekwyn het.

Oorgrens veediefstal na of van Lesotho bedreig ook grenssekerheid

In 2021 is polisiebeamptes van Ladybrand gearresteer op vermoede dat hulle by veediefstal betrokke was. Alhoewel hulle uit hul amp onthef is, is hulle nog nie vervolg nie. In Januarie 2023 is Paul Roux se waarnemende stasiebevelvoerder in hegtenis geneem nadat gesteelde beeste in sy besit gevind is. Hy was een van die mans wat in 2019 genoem is in die verslag wat by die Valke ingedien is.

Buiten hierdie arrestasies, sê boere het daar dadels gekom van Cele se onderneming om beweerde polisiebetrokkenheid by veediefstalnetwerke in die streek te ondersoek. Hulle bestempel hierdie gebrek aan optrede as verdere bewyse van diepgewortelde korrupsie en beperkte verantwoordbaarheid. Alhoewel die Valke ontvangs erken het van die 2019-verslag wat deur die boere ingedien is, het hulle ook nog nie opgetree nie.

Suid-Afrikaanse boere – kommersiële, kleinskaal-, bestaans- en gemeenskapsboere – is uiters kwesbaar vir talle uitdagings, klimaatsverandering, misdaad en kwynende infrastruktuur inkluis, wat die land lamlê. Paaie wat verval, die stygende koste van diesel en die een kragonderbreking op die ander ry boerderybedrywighede erg in die wiele. Hierdie uitdagings, tesame met plaasaanvalle en veediefstal, bedreig die lewensvatbaarheid van boerdery as lewensbestaan. Dit is selfs erger in grensstreke waar die aard van sekerheid en misdaad oor landsgrense strek.

Anders as die gewelddadige beesteroof in Oos-Afrika, word veediefstal egter nie altyd as ’n ernstige misdaad in Suider-Afrika hanteer nie. Dit is ondanks die feit dat dit regoor die streek voorkom en skadelike gevolge het. Ekonomies-gemotiveerde misdade, soos georganiseerde veediefstal en korrupsie, kan as slagofferloos beskou word in die afwesigheid van geweld, met hul duistere kant wat net aan die lig kom wanneer lewens of lewensbestaan in die slag bly. Tog is die impakte wydverspreid en sluit ekonomiese verliese, dierewreedheid en onsekerheid vir mense in. Bestaans- en gemeenskapsboere loop die risiko om hul hele lewensbestaan te verloor. Veediefstal kan ook voedselsekerheid en werksgeleenthede op plase affekteer.

Suid-Afrikaanse boere is uiters kwesbaar vir baie van die uitdagings wat die land lamlê

Die kriminele aanslag en die polisie se oënskynlike onwilligheid om op te tree, het meegebring dat boerderygemeenskappe hul eie sekerheidsmaatreëls in plek gestel het. Dit sluit die beveiliging van toegangspunte en heinings, die plasing van kameras op landelike paaie, halsbande vir diere, hommeltuie en patrollies ná donker in. Party gemeenskappe het hul vee eerder verkoop.

Die SAPD beskik wel oor ’n Landelike Veiligheidstrategie. Een van die doelwitte daarvan is om misdaadvoorkomingsmaatreëls in werking te stel om georganiseerde veediefstal en oorgrensmisdade aan te spreek. Nog ’n pilaar sluit meer veediefstaleenhede by brandpunte in. Korrupsie word egter net kortliks genoem en dan ook slegs in die konteks van die negatiewe impak daarvan op verhoudings tussen landelike gemeenskappe en die polisie. ’n Strategie is ook net so goed soos die implementering daarvan, en navorsing in Lesotho het geboekstaaf hoe ondoeltreffend strategieë is wanneer korrupsie veediefstal vergemaklik.

Terwyl baie eerlike, toegewyde polisielede hul bes doen om die slagoffers van veediefstal by te staan, word hulle dikwels oorskadu deur hul kollegas wat hul posisies misbruik. Sal die SAPD se leierskap ag slaan op die pleidooie van boerderygemeenskappe om hulle teen kriminele netwerke sowel as dié wat in die regering self is, te beskerm? As die Valke die SAPD-lede wat by veediefstal betrokke is, sou ondersoek en vervolg, kan dit baie help om hul toewyding aan die ontwrigting van beide veediefstal en korrupsie te toon.

ENACT, ISS Pretoria

Related

More +

EU Flag
ENACT is funded by the European Union
ISS Donors
Interpol
Global
ENACT is implemented by the Institute for Security Studies in partnership with
INTERPOL and the Global Initiative against Transnational Organized Crime.